BESIG OM TE LAAI

Tik om te soek

“Wine gums”

Deel

Maartmaand is die maand waarin ons begin om Paasfees te vier. Ons besin oor ons eie mortaliteit, Jesus se lyding, soendood en opstanding. In die suidelike halfrond lui Maartmaand ook die begin van die herfs-en winter seisoene in. In die Noordelike halfrond is dit natuurlik andersom. Hier herdenk ons hierdie gebeure terwyl die sneeu smelt, die temperature styg en nuwe lewe begin bod. Waar die viering van hierdie tyd eers baie gedemp was in protestantse kerke in vergeleke met hoe dit in Rooms-Katolieke en Oosters Ortodokse tradisies gevier word, word gebruike soos As-Woensdag dienste (die begin van lydenstyd), vas, mediatiewe wandelings en labirinte wat die krustasies herdenk omarm.

Is dit ‘n goeie ding dat ons die diepte van Christus se verskriklike lyding so aantrek vir onsself? Toe Mel Gibson, “The Passion of the Christ” oor die einste lyding gemaak het, is dit bestempel as een van die flieks met die hoogste grafiese geweld wat nog ooit gemaak is. Is dit regtig goed om in ‘n wêreld waar wreedheid en geweld steeds ‘n bron van groot kommer is, ons te bemoei met dit wat Christus aangedoen is. Is die lewe nie vol genoeg van geweld en lelike dinge nie? Moet ons nie eerder skoonheid en prag besing en ons daarin verlustig nie? Christus se lyding het immers in sy opstanding en oorwinning uitgeloop.

Onlangs het hierdie vraag by my opgekom toe ek die boek “Fat, Forty and Fired” van Nigel Marsh lees. Dit is geen geestelike of teologiese boek nie maar ‘n humoristiese blik op sy lewe en sy worstelinge rondom sy middeljare. In hierdie boek het hy egter ‘n staaltjie uit sy lewe vertel en ‘n lewensles daarmee gedeel wat hierdie vrae van my vanuit ‘n onverwagse hoek belig het. Ek wil dit graag met julle deel.

Nigel hou baie van die sg.  “Wine Gums” lekkergoed. (As daar ‘n Afrikaanse woord daarvoor bestaan, het ek dit ongelukkig vergeet). Hy hou veral van die rooi en swart lekkers waarvan daar ‘n paar in elke pak is. Een dag besluit hy om saam met sy twee seuns op ‘n lang staptog te gaan. Toe hy by ‘n winkel instap om versnaperinge vir die tog te koop, is hy verheug om te sien dat daar jou werklikwaar ‘n pak wine gums is wat net rooies en swartes in het. Op die daad besluit hy om al sewentien pakke op die winkelrak op te koop.

Op hulle staptog deel hy die goeie nuus met sy seuns wat ook baie van die rooi en swart wine gums hou. Hy sê vir hulle dat hulle soveel kan eet as wat hulle wil aangesien hy ‘n lot gekoop het. Entoesiasties sak die seuns weg en hyself saam met hulle. En toe gebeur iets onverwags. Na ‘n pak of wat hou hulle op en begin hulle ander lekkernye nuttig. Aan die einde van die dag toe hy sy sak uitpak en merk dat daar ‘n driekwart van die pakke wine gums nog oor is tref iets hom.

Dit is dat die geel, groen en oranje wine gums tussenin die rooies en die swartes, dit juis soveel lekkerder maak.

Daar is dinge in ons lewe waarvan ons minder hou as ander dinge en selfs dinge wat ons weg wens.  Maar partykeer besef ons nie watter belangrike rol hierdie dinge in die vorming van ons karakter speel nie. Partykeer is ons totaal blind daarvoor dat juis hierdie dinge ons mense maak wat die goeie dinge meer waardeer en beter ontvang.

En juis om hierdie rede is dit dalk wys om tog die geleentheid aan te gryp om hierdie paasseisoen jou te verdiep in Christus se lyding. Ons lewe in ‘n kultuur wat so rondom gerief en gemak draai, dat dit dalk net die regte medisyne kan wees om onsself te herinner dat die swaarkry van die lewe selfs Christus nie gespaar is nie.  Miskien rus dit ons baie goed toe om die ongewenste dinge in ons lewe beter te aanvaar en positief daaruit te haal. Miskien maak dit van ons mooier mense as ons die groen geel en oranje met waardigheid leer aanvaar en verwerk en mense wat die rooi en swart lekker van die lewe met ‘n dieper dankbaarheid kan omarm.

 

Mag hierdie reis jou op mooi en lekker plekke uitbring!

Gabriel

Outeur: Gawie Snyman

Vorige Artikel
Volgende Artikel

Lewer Kommentaar

Jou eposadres sal nie gepubliseer word nie.

error: Inhoud het kopiereg