BESIG OM TE LAAI

Tik om te soek

Swaeltjies – ons Somergaste

Deel

“Nee, nee, nee! Is jy laf?” Jy sien net arms swaai soos hy nader kom

“Wat’sit nou met jou?”  Petrus lyk skoon potsierlik soos hy homself omdraai en gelyktydig balanseer op die leer “Die meneer het gesê die ding moet af! Hy soek die stoep skoon, verstaan jy? Skoon! Nou kom sta’ gil jy op my.” Petrus besef as hy nie nou reg draai op die leer nie, gaan die wet van gravitasie sy tol eis. Hy swaai homself om en kyk vierkantig vas in die swaeltjienes. “‘n Bol modder met ‘n gat in die middel” mompel hy terwyl hy sy laphoed weer in plek skuif.

“Jy verstaan niks!” Ou Koos stamp sy een voet van pure ergernis en beveel Pertus om summier van die leer af te klim. “As jy nie nou afklim nie loop jy huis toe vandag” Petrus lag ‘n diep stadige lag vir die ou man toe hy langs hom op die stoep trappie gaan sit en sy laphoed in sy twee hande op sy knieë vashou. “Ek luister …”

“‘n Swaeltjienes is iets baie besonders – iets baie slimmer as wat ek en jy kan verstaan” Begin Ou Koos formeel. “Nè?!” maar die kyk wat hy van die ou man kry waarsku Petrus om sy bietjie breins te gebruik en stil te bly.

“As jy hom soek in die Winter sal jy hom vêr moet loop soek. Wanneer die kleur van die blare vir ons vertel dat die Winter wil kom, is die tyd wanneer die prinse van die lug weg vlie’ na warmer plekke toe.”

Petrus sit nou met ‘n diep geinteresseerde frons tussen sy oë en vra ongelowig: “Nou wa’n toe vlie’ hulle?” “Noorde toe. Hier bo in Afrika op. Ander soorte vlieg nog verder noord. Engeland, Europa, jong party vlie’ sommer Rusland toe. Jy weet mos as ons koud kry hier dan is dit warm da bo.”

“O” sê Petrus en wag angstig op die volgende brokkie inligting en voel hoe sy respeksvlakke vir die klein wonder styg (Hy sien nie eers kans daarvoor om 4 kilometer terug te stap huis toe nie)

“Jy sien, hulle is ons Somergaste” sê Ou Koos baie trots en stryk sy onderbaadjie glad met sy hande. “Ons bêre hulle huisies vir hulle mooi en veilig, die hele Winter tot hulle weer terugkom wanneer die bloeisels bot en perske tyd nader kom.” Ou Koos gaan aan en besing die lof van die moedige voëltjies wat tot 12,000 kilometer vêr kan aflê – en hoe meer Petrus luister, hoe dikker maak Ou Koos die pap aan.

Teen die tyd is Petrus al diep aangedaan en voel opreg spyt oor sy gevoellose optrede. “Jy sê so vêr soos Rusland?” “Ek sê jou!” sê Ou Koos slim en gee Petrus so elmboog van aanmoediging. “Toe, loop maak die res van die stoep skoon”

Voordat Petrus later die leer gaan bêre vra hy vir Ou Koos of hy nie eers vir hom iets op ‘n stukkie papier wil skryf nie. Hy sal dit sommer self bo by die nes insit. “Nou wat moet ek daarop skryf?”

Ag, skryf maar net: “Welkom terug. van Petrus”

Meneer sal verstaan.

Mier

Outeur: GASVRY

Vorige Artikel

Lewer Kommentaar

Jou eposadres sal nie gepubliseer word nie.