BESIG OM TE LAAI

Tik om te soek

Smous

Deel

Vandag was ‘n emosionele dag, maar ook ‘n mooi dag. ‘n Dag van huil en lag – pyn en vreugde. Van weer ontmoet van ou bekendes – en ‘n finale groet …

Ons het almal geweet dat hierdie dag onvermydelik is. En nou dat ons ons terug is by die huis, sit ek, ma, boetie en manlief buite op die stoep en klink ‘n glasie La Motte Merlot op haar lewe. Wat ‘n ongelooflike vrou was nie!

 

Ons praat toe sommer oor alles – elke onthou jy nog storie en nostalgie van kleintyd. Ma vat ons terug na haar wêreld van ponde en sjielings en swaar kry. Wragtag, swaar kry. Nie eers geld vir ‘n krieseltjie kos nie – en hulle was 7 kinders wat moes eet. “Maar ouma was ‘n ander soort planmaker” sê ma terwyl sy glimlag en die rooiwyn stadig in haar glas omrol.

 

“Ouma het voorskooie gemaak en èk moes dit in die middae na skool gaan smous” sê sy en druk met haar wysvinger teen haar bors. “Ouma het die dag vir my 4 voorskooie gegee om te verkoop – twee elk met ‘n bib teen 5 sjielings en 6 pennies en twee halflyf voorskooie teen 4 sjielings. Ek kon net drie verkoop kry en het met een van die duur voorkooie en die geld vir die ander drie huis toe gegaan. Ek was redelik in my noppies met die dag se verkope en het besluit om vir ouma ‘n streep te trek”

Ouma was so hoopvol en vra toe angstig: “En kon jy iets verkoop?”

Ek het my mismoedige gesig opgesit: “Niks”

Ek was dadelik spyt toe ek haar gesig sien!

“Ag, wat gaan ons eet vanaand?!” sug ouma.

“Dis net ‘n grappie, Ma – ek het drie verkoop. Hier’s die geld en die ander voorskoot”

Ek kon dit nie vinnig genoeg vir Ouma sê nie. Ek was so jammer.

Nie lank daarna nie klop daar ‘n groente smous aan die deur. “Wat het jy vir ons?” vra ouma. “Net aartappels, maar jy kan alles kry vir 5 sjielings en 6 pennies” sê hy.

“Weet jy wat,” sê ouma “ek is ook ‘n smous en wil ‘n voorstel maak. Ek wil jou aartappels hê en jou vrou het ‘n voorskoot nodig.” besluit ouma vir hom.

Daai aand, sê ma, het hulle die lekkerste varste aartappels geëet wat sy nog ooit geëet het!

Ouma is nou 93 en sy besef nie dat ons vandag haar oudste kind begrawe het nie.

Mier

Outeur: GASVRY

Lewer Kommentaar

Jou eposadres sal nie gepubliseer word nie.

error: Inhoud het kopiereg