BESIG OM TE LAAI

Tik om te soek

Pa se brief

Deel

Liewe Max*,

Ek onthou die dag so goed soos gister wat Wilmien* ons gebel het. Die lang wag was verby en ons kan uiteindelik ‘n baba kry.

Dit het so onverwags gebeur, en onder normale omstandighede sou ons 9 maande hê om onsself as ouers voor te berei. Maar daar was nie tyd daar voor nie. Die omstandighede waarin hulle jou gevind het was vir seker nie ideal vir ‘n pasgebore baba nie.

Jy was so klein. So piepklein waar jy knus en tevrede in jou nuwe mamma arms gelê het. Die hele gedagte van pa-wees het nog nie mooi by my posgevat nie, maar boeta was ek trots! Hier sit my liewe vrou voor my na 16 jaar se bid en wag, en nog bid en wag, uiteindelik met jou – ons seun.

Soos wat jy groter geword het, het ons almal maar alte goed geweet dat jy mooi opgepas moet word, want jy was ‘n woelige knaap met baie spesifieke idees van jou eie. Jy wou asseblief net almal se motorsleutels oppas en solank jy daarmee in jou hande kon loop was jy tevrede. Jy het baie goed geweet wanneer dit nie regte motorsleutels is nie en ons kon jou nie flous nie.  Later van tyd het jou liefde vir selfone begin en ek is vandag nog steeds verstom oor wat jy alles verstaan van al die knoppies, maar dat jy nie die vermoë het om eenvoudige somme te doen nie.

Toe jy klein was het ons dikwels die fout by onsself gesoek vir jou moeilike buie, maar in jou Graad 1 jaar het alles begin duidelik word toe jy as outisties gediagnoseer is. Wie sal dit kan raai as mens vandag na jou kyk. Jy lyk so normaal! Soos enige ander kind – so normaal – maar niks is normaal in die lewe rondom jou nie.

Intussen is jou sussie (ons eie) 6 jaar na jou gebore. Dit is en bly vandag nog een van die grootste uitdagings om vir julle beide net die beste te gee. Sussie is briljant en kon voor skool al lees, sy neem deel aan redenaars en speel hokkie (dit alles in Gr. 1) Julle is twee verskillende wêrelde onder een dak. Niemand, wat nie deel van ons gesin is, kan verstaan hoe dit werklik in ons huis is nie. Ek het lankal besluit dat my klere maar jou klere ook is. Dat my tyd maar joune ook is. Dat selfs my loopbaan ook joune is en as my baas nie begrip vir jou behoeftes het nie, kan ek ongelukkig ook nie op sy loonrol wees nie.

Dit is niemand se skuld nie. Nie jou biologiese ma wat jou gedra het nie, ook nie ons s’n wat jou grootgemaak het nie. Daar is ook nie ‘n ander outistiese kind wat net soos jy is nie.

Elkeen is anders. Elkeen is uniek. Elkeen is spesiaal.

Dit is oukei as jy ons op die naam noem en nie mamma en pappa sê nie. Ek sal altyd jou pa wees en nooit ophou om vir jou jou lief te wees nie, want jy is my seun, my storm en my kalm waters!

Vandag verstaan ek wat my pa bedoel het toe hy gesê het dat hy sy arms stompies sal baklei vir my.

***

Liewe Max*, ek skryf vandag vir jou hierdie brief uit my hart uit – al kan jy nie ‘n woord daarvan verstaan nie.

 

Al my liefde,

Pa

* skuilnaam

Vorige Artikel
Volgende Artikel

Lewer Kommentaar

Jou eposadres sal nie gepubliseer word nie.