BESIG OM TE LAAI

Tik om te soek

Ou Koejawelblaar

Deel

Dit was die laat 1970’s. My oupa het ‘n huisie in Hartenbos gekoop en hy, my ouma en hulle twee seuns (waarvan die oudste een my pa) was daar op vakansie. Dit was in die dae toe Hartenbos nog basies bestaan het uit ‘n klomp asbes huisies en die minimum permanente inwoners gehad het. Die betrokke middag was nie ‘n goeie dag in hierdie Snyman gesin se lewe nie. My oupagrootjie, wat saam met hulle op vakansie was het ‘n beroerte gekry en is in die hospitaal opgeneem met al die drama en bekommernis wat daarmee gepaardgegaan het. Hulle het pas by die strandhuis aangekom na die hele palawer, doodmoeg. Wat toe gebeur het, sou aanleiding gee tot een van daardie stories wat elke familie het en oor en oor in herinnering geroep word…

Sien, ‘n man het onverwags homself in die kosyn van die strandhuisie kom staanmaak. Die voordeur was een van daardie tweestuk deure en net die onderdeur was toe. Die man het vriendelik gegroet. Voor my oupa kon keer, het hy die knip van die onderdeur gevind en voordat iemand tot verhaal kon kom, het hy hom neergeplak op een van die stoele, reg vir ‘n lekker geselsie. Hy was salig onbewus van die situasie waarin die familie hulle bevind het en was blind vir die ongemak op almal se gesigte.

Die man was vaagweg bekend aan my oupa en die res van die gesin. Hy was ‘n bekende gesig in Hartenbos. Dit is asof hy permanent in die strate op en af gestap het op soek na geselskap. Hy het ‘n reputasie vir langdradigheid gehad en party het bespiegel dat hy swaksinnig was en eintlik in ‘n inrigting hoort. Die oomblik toe hy hom gaan neerplak op my oupa se sitkamerbank die dag, het hy sy reputasie gestand gedoen. Hy het uitvoerig begin praat oor die genesende krag van koejawel blare. My oupa was ‘n bankbestuurder vir Volkskas. In daardie jare was dit ‘n gesagsposisie waarin mense verleë met jou kom praat het op jou tyd en terme. Hierdie man het nie een van die twee gerespekteer nie en my oupa het begin kook van binne soos die gesprek aangegaan het. Wat by sy seuns begin het as besorgdheid en vrees vir waartoe dinge sou kon lei het nou omgesit in giggel, die tipe giggel wat jy kry as jy weet jy mag eintlik nie nou lag nie. Die trane het blykbaar geloop soos wat hulle hulleself verknies het in my oupa se geïrriteerdheid en hulle lag probeer sluk het.

Ten einde laaste, nadat my oupa ‘n herculeaanse poging aangewend het om die man uit te luister oor sy koejawel blare en beleefd te bly, het die man uiteindelik die pad gevat.   Hy sou na daardie dag altyd bekendstaan as ou “Koejawelblaar” en as seuntjie het daar nouliks ‘n Kersfees verbygegaan wat hierdie storie nie oorvertel is nie.

Vandag dink ek weer aan Koejawelblaar. Ek dink hoedat ons almal partykeer in sulke “net- nie- dit- ook- nog- nie” situasies beland.

Ek dink hoedat ons hierdie situasies vermy, wil ontsnap en partykeer verby bid maar ook hoedat sulke tye altyd ‘n versteekte gawe het. Dit is asof hierdie situasies baiekeer oor jare ‘n tipe gelykenis word wat by ons bly en ons waardevolle dinge van die lewe leer.

Jy sien, ek dink ons emosies eerder as die gebeure self, is baie soos ou Koejawelblaar. Dit dring soos ongenooide gaste ongewens in ons binneste in. Dit bly langer as wat ons dit daar wil hê en vertel vir ons ‘n storie wat ons nie lus het om te hoor nie. Ons wens dit weg en voel ons sal enige iets doen om daarvan te ontsnap. Maar dit is nou die ding van Koejawelblaar… as jy hom ignoreer bly hy net langer en vertel hy sy storie net nog ‘n keer. Die enigste manier om hom sinvol terug in die agtergrond van jou lewe in te skuif is om op jou tande te kners, hom in die oë te kyk en vir hom te luister.

Emosies werk ook so.  As ons hulle ongewenste teenwoordigheid probeer ignoreer, raak hulle net meer hewig en rig hulle skade aan. Jy kan opstaan en na ‘n ander kamer van jou siel vlug as hulle opdaag want jou siel is ‘n baie groter plek as jou huisie op Hartenbos. Maar as jy dit doen raak ou Koejawelblaar op sy skadelikste. Dan breek hy goed in die kamers waarvan jy wegvlug. Ergste van alles as jy hom lank ignoreer trek hy in en kruip vir jou weg in die groot huis van jou siel. Dan hoor jy hom net elke nou en dan-die bangmaak donder geluide van sy vernietiging. Jy kom partykeer op sy skade af in kamers en ander kere sien jy tot jou ontsteltenis hy het gereedskap gesteel wat jy nodig het om belangrike werk in jou huis te doen.

Die beste is om hom te konfronteer, hom stip in die oë te kyk en baie fyn te luister wat hy jou oor die lewe vertel. Jy gaan nie van die manier doen waarop hy dit doen  nie. Jy gaan nie hou van hoe lank hy aangaan of op watter tydstip hy by jou opdaag nie. Maar as jy lank genoeg, geduldig genoeg en fyn genoeg na hom luister gaan jy ‘n verrassende ontdekking maak. Jy gaan agterkom dat hy tog iets baie waar en waardevols het om met jou te deel. Iets wat jou dalk eendag baie kan help of iets wat jou kan help om ander te help. Jy gaan sien dat hy dan tog die pad vat.

Jy sien, ou Koejawelblaar was reg. Gaan Google dit. Koejawel blare het jou wragtigwaar ‘n ongelooflike genesende effek. Belê daarin terwyl jy nog gesond is.

Gabriel

Outeur: Gawie Snyman

Vorige Artikel
Volgende Artikel

Lewer Kommentaar

Jou eposadres sal nie gepubliseer word nie.