BESIG OM TE LAAI

Tik om te soek

Om plek aan ons tafel te maak

Deel

Gasvryheid. Dit klink so mooi en maklik, so alledaags en na iets wat mense mos maar in elk geval doen. Die woord ‘gasvryheid’ het vir baie mense betekenisse soos om goeie vriende oor te nooi vir ete of soos die woord wat in die hotelwese, oftewel gasvryheidsbedryf, gebruik word. Hierdie assosiasies is inderdaad deel van die betekenis van die woord, maar tog het ‘gasvryheid’ in die Christelike geloof ’n veel dieper, belofteryke en selfs gevaarlike betekenis.

Gasvryheid in die Bybel

In beide die Ou- en Nuwe Testament is daar belangrike tekste wat oor gasvryheid handel. Enkeles wat uitgesonder kan word, sluit in:

Genesis 18; waar Abraham drie besoekers ontvang en amper oordadig met rooster-koeke en kalfsvleis bedien. Een van die gaste bevestig dan die belofte van ʼn seun vir Sara en Abraham – dit gaan nou waar word!

Rigters 19; daardie gruwelike verhaal van die Leviet en sy byvrou en hoe gasvryheid aan hulle as vreemdelinge bewys word. Maar die verhaal loop uit op verkragting en moord; en ’n verskriklike miskenning van vroue se menswaardigheid. Gasvryheid kan ook gevaarlik wees!

Die bekende verhaal van die barmhartige Samaritaan in Matteus 22, Markus 12 en Lukas 10 is by uitstek ’n verhaal wat oor gasvryheid handel.

Romeine 12:13 moedig gelowiges aan: “… lê julle toe op gasvryheid.”

In Hebreërs 13 tref ons die pragtige vers 2 aan wat vertel van mense wat, sonder dat hulle dit besef het, deur gasvry te wees engele as gaste gehuisves het.

Uit hierdie enkele tekste is dit reeds duidelik dat gasvryheid ’n belangrike Bybelse tema is en dat gasvryheid volgens die Bybel beide verrassings en verskrikking inhou. Tog bly dit ons roeping.

God as Gasheer

Voordat ons oor gelowiges se opdrag en roeping om gasvry te wees praat, moet ons eers dink oor God, wie Hy is en hoe Hy optree. Volgens die Ou Testament was ons vader, Abraham, ’n swerwende Arameër, ’n vreemdeling en bywoner op hierdie aarde (bv. Deuteronomium 26:5). Abraham en ons wat as gelowiges kinders van Abraham genoem word, is hier op aarde slegs besoekers, gaste vir ʼn bepaalde tyd … en God is ons Gasheer. Dít is waar gelowiges kan begin in hul nadenke oor gasvryheid as roeping, naamlik dat God die groot Gasheer op aarde is en ons sy gaste.

Die tafel en gasvryheid

Die tema van gasvryheid kan vanuit die Bybel met soveel invalshoeke benader word, dat hier ’n keuse gemaak word vir een moontlikheid, te wete die tafel.

Kyk na die prent; wat sien jy?

Ja, die perspektief verspring voortdurend tussen een glas of die profiele van twee gesigte wat na mekaar kyk. Miskien is hierdie prent ’n goeie aanknopingspunt tussen die tafel of beker op die (nagmaals)tafel en die Christelike deug van gasvryheid. Fokus ons net eers op Lukas se twee Bybelboeke, tref ons in die Lukas-evangelie telkens vir Jesus aan waar Hy saam met mense aan tafel is en in Handelinge is dit die Heilige Gees wat daardie werk van Jesus voortsit. Wat vertel hierdie tafeltekste in Lukas en Handelinge ons van gasvryheid? Wat vertel dit ons van wie Jesus is?

Lukas 24 se verhaal van die Emmaus-gangers wys vir ons ’n Jesus wat aan tafel gaan en die brood neem, seën, breek en deel. In die breking van die brood ontdek hulle hoe Jesus, die opgestane Here, die eintlike Gasheer van hulle tafel is.

Twee hoofstukke vroeër in Lukas 22, word vir ons vertel hoe Jesus in die donkerste nag denkbaar die Nagmaal instel. Ons kan tereg praat van Nagmaal en opnuut sien hoe die tafel sy oorsprong het in ’n moeilike, uitdagende tyd, maar juis ook bedoel is vir so ’n tyd.

Lukas 14 se gelykenis oor die groot maaltyd gaan by uitstek oor gasvryheid, met die tafel as kernsimbool. Aan die einde van die gelykenis wys Lukas vir ons die tafel in die koninkryk van God, maar die gaste is verrassend genoeg die armes, blindes, kreupeles en verlamdes. Die laastes het aan God se langtafel in sy koninkryk, die voorste sitplekke.

In Lukas 7, by Simon die Fariseër se tafel, oortree Jesus die geldende reëls van daardie tye en sluit ’n vrou in deur haar aan Hom te laat raak. Op soortgelyke wyse gaan Jesus in Lukas 5 ook aan tafel en steek daar die grense radikaal oor deur saam met ’n groot aantal tollenaars en ander mense by Levi, die tollenaar, aan huis te eet, sodat die skrifgeleerdes by die dissipels gaan kla het deur te vra: “Waarom eet en drink Hy saam met tollenaars en sondaars?”

Hierdie grens-oorskreidende, almal-inslui-tende, radikale gasvryheid van Jesus – ’n gasvryheid wat vir ons reg in die hart van God laat inkyk – word in Handelinge voortgesit deur die werk van die Heilige Gees waar grense verder afgebreek en mense by God se tafel versamel word. Juis so groei die kerk, deur die gasvryheid van Geesvervulde mense wat reeds aan die tafel kom sit het. Aan hulle gasvryheid word die eerste Christene uitgeken.

Om op te som: Uit Lukas en Handelinge kan ons sê dat God is hoe Hy eet en dat gelowiges ook is hoe hulle eet. Stel jouself ʼn lang, ʼn baie lang tafel voor waar God self die Gasheer is. ’n Tafel waar mense aansit wat ons dikwels nie sou verwag om daar aan te tref nie. Daar is spesiaal plek gemaak – ereplekke! – vir die armes, blindes, kreupeles en verlamdes. En tog, ja tog eet Jesus telkens in Lukas se Evangelie óók by die Fariseërs, juis omdat Hy ook vir hulle omgegee het. Die langtafel van God se gasvryheid is langer as wat ons onsself kan indink. Dit wil voorkom asof ons dikwels juis daardie mense wat ons in ons eie gedagtes uitsluit van God se tafel, daar aantref. My laastes is God se eerstes. God is hoe Hy eet, of anders gestel, hoe sy tafel lyk, sy langtafel waarby, soos ons in Lukas 14 lees, daar altyd “nog plek” is.

Hierdie tafelmaniere van Jesus kan tans na net ’n mooi gedagte klink. Ons moet egter onthou dit het volkome ingedruis teen die grense wat daar in die samelewing van daardie tyd was en wat in enige samelewing vandag ook aanwesig is. Diegene wat hierdie grense toets en uitdaag kan, of eerder sal, vir hulself die gramskap van ander op die hals haal. Soos een Nuwe Testamentikus tereg opgemerk het: “Jesus is doodgemaak oor die wyse waarop Hy geëet het”.

By die tafel en oppad

In Lukas 24 (Emmausverhaal) ontdek Kleopas en sy medereisiger aan tafel met die vreemdeling, dat hulle met niemand minder as die opgestane Jesus as hul Gasheer aansit nie. Hulle tafel is eintlik sy tafel. Hierdie ontdekking bring hulle in beweging en hulle gaan vertel. Maar meer nog … soos die verhaal verder gaan in Handelinge sien ons dat die gelowiges nie net vertel nie, hulle begin self ook tafels dek en plek maak vir ander by hulle tafels. Grense word oorgesteek en mense word ingesluit deur ware dade van gasvryheid. Soos die gelowiges in Handelinge in alle eenvoud en met blydskap geëet en God geprys het, so lees ons het God ook hulle getalle laat vermeerder. Dit word reeds in daardie eerste gemeente ’n eienskap van die kerk van Christus dat die Gasheer, Jesus, se gaste op hierdie aarde sélf gashere en gasvroue van God word.

In Openbaring 7 kry ons ’n visioen waar mense van elke nasie, stam, volk en taal voor die troon van die Lam staan. Dit is ’n visioen wat iets vertel van dié eendag waarop gelowiges hoop, soos die gelykenis oor die maaltyd in die koninkryk van God in Lukas 14 ook doen. In van die eredienste van die vroeë kerke het die Nagmaalgangers, voordat hulle die ete van die Nagmaal by die tafel vir die eerste keer geniet het, net eers aan melk en heuning geproe. Hoekom? Om hulle te herinner dat al die tafels hier op aarde, hoe belangrik hulle ook al is, tog ook maar tydelik is.

God ons Gasheer is met ons oppad – oppad na ’n tafel wat Hy vir ons dek. En intussen is ons tafels by ons huise en in ons gemeentes en ons uitleef van gasvryheid in hierdie wêreld ’n belangrike voorsmaak op aarde van God se tafel wat wag. Gelowiges se gasvryheid dra die smaak van daardie melk en heuning van die hemelse tafel waarop ons hoop – langtafels wat radikaal wil insluit, veral diegene wat in ons samelewing verstoot word.

Dit is Christelike gasvryheid – nie net ’n mooi gedagte nie – maar ’n deug wat van gelowiges tegelyk gaste en gashere/vroue van God maak.

Cas Wepener

Outeur: Prof. Cas Wepener (Universiteit van Pretoria)

Volgende Artikel

Lewer Kommentaar

Jou eposadres sal nie gepubliseer word nie.

error: Inhoud het kopiereg