BESIG OM TE LAAI

Tik om te soek

My dag met Outisme

Deel

Toe ek in die vertrek kom, vind ek dit vreemd dat daar maar ‘n paar tafels is. Ek merk dat party van die tafels se hoeke met skuimrubber bedek is. Uit die klaskamer is daar ‘n deur wat lei na ‘n aangrensende kamer. Hierdie kamer is geen stoorkamer soos wat ‘n mens sou verwag nie maar ‘n massiewe vertrek met ‘n ingerigte kombuis en ‘n area wat herinner aan ‘n mens se woonkamer by die huis. Ek haas my na die instruksies op die onderwyser se lessenaar. Die eerste bladsy bevat geen lesinhoud nie maar instruksies oor die leerlinge self. Ek lees dat ek nie te naby aan een se tafel verby moet loop nie aangesien sy geneig is om jou bout te byt as jy verbystap. ‘n Ander kind is blind, nog ‘n ander moet die program vir die dag sien en gewys word waar ons trek. Daar is maar agt kinders in hierdie klas maar ek besef skielik dat ek vandag onwetend ingewillig het om vir agt outistiese kinders skool te gee. My opleiding as dit by outisme kom, strek sover as die film “Rain Man” en dit het ek laas op hoërskool gekyk! Ek kry die gevoel dat ek vandag die een op die sterkste leerkurwe gaan wees. Ek was reg…

***

So ontmoet ek toe vir Dante wat met ‘n loop raam loop en met die grootste inspanning in kort sinne praat. Hy is ‘n aantreklike Indiër seun. As hy frustreer raak gooi hy sy potlode op die grond en staar by die ruit uit asof hy ‘n komplot teen die samelewing bedink. Hy het ‘n onderwys assistent aan sy sy, ‘n man in sy vyftigs wat vir die grap met Dante in ‘n Spaanse aksent praat. Met ‘n bietjie verbeelding lyk Dante nogal na ‘n hoë  profiel Spaanse krimineel met ‘n lyfwag.

Dan is daar Travis. Hy is 14. Asof sy outisme nie ‘n groot genoeg uitdaging vir hom was nie, is hy blind ook. Hy tik ons oefening op sy braille tikmasjien. Alles wat ek vir die kinders wys moet Travis met sy hande voel.

 

Elizabeth lyk op die oog af of daar niks met haar skort nie. Sy is beeldskoon. Haar vel is bleek en lyk so glad soos porselein. Sy neurie byna konstant en praat nie regtig nie. Sy het ‘n geneigdheid om haar hande te kou as sy senuweeagtig raak soos die littekens op haar hande getuig.

Areeba is ‘n meisie wat ek amper vir een van die helpers aangesien het. Sy het ‘n aanvoeling vir praktiese take wat verrig moet word. Sy is ‘n voorslag in die kombuis en sy gee antwoorde op somme wat jou verstom. As jy met haar gesels gee sy kortaf, stacato antwoorde asof sy ‘n robot is wat geprogrammeer is om net feitlike inligting deur te gee.

Sarah is ‘n meisie wat ‘n gawe het om teen die agtergrond te verdwyn. Jy weet nie van haar nie. Sy doen alles wat sy doen doelgerig maar uiters stadig. Dit is amper asof ‘n engel iewers die stadige aksie knoppie op haar afstandbeheer inhou. Sy laat my aan my dogtertjie wanneer sy in die oggende moet regmaak vir skool.

Dylan is die outjie wat die skedule moet sien. Dit ontgogel hom baie as ons van die skedule afwyk en sy angs daaroor was aansteeklik vir my. Hy rits lang dialoë uit bekende flieks uit sy kop. Ek dink hy sal enige akteur wat sy woorde vergeet gou kan reghelp.

En dan is daar Zahra. Zahra se is die mins sosiale kind in die klas. Sy is nie-verbaal. Haar hele liggaam draai instinktief weg van ‘n persoon af wat haar nader. Sy hou daarvan om onder haar arms weg te kruip en skelm vir ‘n mens te loer. Af en toe gee sy so skalkse glimlag. Sy is ‘n byter. Sy byt skielik en onverwags. Sy is ook lief daarvoor om ander maatjies te knyp en versteur so gereeld die klas se vrede. Tog is dit pragtig om te sien hoe die ander haar volkome aanvaar en haar gedrag nie teen haar hou nie. Ek het my aanvanklik voorgeneem om haar te vermy maar om een of ander onverklaarbare rede het ons gekliek. Sy het my nader aan haar toegelaat as enige iemand anders. Ek het myself maar vertel dit is omdat ek te maer is om raak te byt.

My dag gaan gepaard met ‘n paar stampe en stote. My A-tipe persoonlikheid wil deur die lesplan druk maar ek sien gou dat dit hier anders werk. Toe ek die laaste periode saam met almal op die groot sofa gaan sit, kyk ons Lion King. Zhara kom krul langs my op terwyl sy ‘n bottel met ‘n balletjie in heen en weer skud langs haar oor. Elizabeth kom sit kiertsregop aan my ander kant asof sy reg verwag ‘n kêrel gaan haar enige oomblik kom oplaai vir ‘n ander fliek. Travis gooi sy kop agteroor op ‘n ander sofa en Daryl lyk verlig dat ons nou by die laaste item op die skedule gearriveer het. Elton John se “Cricle of Life” speel oor die luidsprekers terwyl Rafiki die mooi leeuwelpie vir die wêreld wys op die skerm.

Ek voel skielik diep dankbaar dat die sirkel van die lewe ook vir hierdie kinders plek het

Daar daal ‘n vergenoegdheid en ‘n vrede op my neer terwyl Zahra se lyfie swaar langs my raak van slaap. Ek voel skielik diep dankbaar dat die sirkel van die lewe ook vir hierdie kinders plek het en dat ek nou in hierdie oomblik, al kan ek min vir hulle doen, nog steeds by hulle kan wees. Ek weet nog steeds nie baie van outisme af nie maar vandag het ek dit geleer: Hierdie kinders is nie net werk nie; hulle is ook ‘n seëning en vir almal wat, al is dit per ongeluk, tyd aan hulle af staan gee hulle ‘n geskenk wat geld nie kan koop nie. “Ek moet dit meer doen”, sê ek vir myself. Almal moet.

Gabriël

Outeur: Gawie Snyman

Vorige Artikel

Lewer Kommentaar

Jou eposadres sal nie gepubliseer word nie.

error: Inhoud het kopiereg