BESIG OM TE LAAI

Tik om te soek

Kersfees – Ja of Nee?

Deel

“En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar” (Luk.2:6).

Is 25 Desember werklik die geboortedag van ons Here Jesus of was dit ʼn heiden-fees wat van ʼn Christen baadjie voorsien is soos wat sommige mense beweer?  Die antwoord op beide vrae is nee;  25 Desember is nie die werklike geboortedag van Jesus nie en dis ook nie van die heidendom verkry nie.

Wat wel waar is, is dat 25 Desember sedert die vierde eeu n.C. die Christenkerk se feesdag is waarop Jesus se geboorte gevier word.   Let wel: sy geboorte en nie sy geboortedag nie.

Om ʼn koning se geboorte op ʼn ander dag as sy geboortedag te vier is niks vreemd nie. Die Britse koningin se verjaarsdag is 21 April. Haar amptelike verjaarsdag word egter op elke tweede Maandag in Junie seremonieel gevier. Die Britte vier haar verjaarsdag en nie haar geboortedag nie. Met Kersfees is dit pressies dieselfde; dis nie ’n geboortedag-herdenking nie, maar ’n herdenking van ʼn geboorte – Jesus s’n. En dis twee verskillende dinge.

Jesus se geboorte moes baie naby aan 25 Desember gewees het. Die vroeë kerk het aan die hand van ou Joodse geskrifte die tyd van Sagaria se diensbeurt in die tempel vasgestel. Sagaria was Johannes die Doper se pa en priesters moes jaarliks oorgeskrewe dienste in die tempel in Jerusalem nakom.

Sagaria se diensbeurt was in September van daardie jaar.  En in daardie tyd het ’n engel aan hom verskyn en hom van sy seun se komende geboorte ingelig. Werk dit nou uit – Elizabeth was ses maande swanger toe ’n engel Maria oor Jesus se komende geboorte ingelig het en dus in Maart van daardie jaar.   Die vroeë kerk het hierdie datum op 25 Maart bereken. Jesus se geboorte was nege maande later – 25 Desember.

Daar is talle besware teen hierdie datum.   Desember is winter in die Noordelike Halfrond en herders sou kwansuis nie in die koue in die veld oor skape wag gehou het nie. Dis moontlik.  Tog moet daarmee rekening gehou word dat skape dwars deur die jaar by die tempel geslag is en hoofsaaklik van Betlehem (naby Jerusalem) gekom het. Daarom kon dit wel in Desember gewees het.

Ons weet uit ou geskrifte dat Kersfees nie in die vroeë kerk gevier is nie, maar eers vanaf 386 n.C. toe dit ’n vaste datum in die kerk geword het. Daarna het 25 Desember oral byval gevind. Eeue later het kritici verkondig dat Kersfees ’n heidense oorsprong het en die Roomse Kerk daarvan beskuldig dat dit ’n heidense fees verchristelik het. Daar is geen bewyse vir so ’n aantyging nie.

Kersdag is wel baie naby aan die wintersonstilstand gevier wat deur die ou Romeine op 26 Desember met ’n sonfees ter ere van die onoorwinlike son gevier is. Dit was ʼn weeklange fees van 16-23 Desember wat met brassery gepaard gegaan het.  Uit ou kerkgeskrifte is daar geen aanduiding dat ʼn datum van heidene geleen of dat ʼn heidenfees ʼn Christenbaadjie ontvang het nie!

Die presiese datum van Jesus se geboorte maak regtig nie saak nie.  Christene herdenk nie sy geboortedag nie, maar die wonderlike feit dat Hy gebore is om ons Verlosser te wees.   En dis waarvan die Bybel melding maak: “En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar” (Luk.2:6).   Nie die dag nie, maar die wonder dat die grote Skepper-God sy hemelwoning verlaat om mens onder ons te word.

Gevolglik is die vraag nie of ons Kersfees mag vier nie, maar hoe ons dit moet vier.  Kersfees is ’n tyd van welwillendheid – ’n tyd van gee.  God het gegee; ons moet ook gee.  Daarom gee ons vir mekaar geskenke.  Ongelukkig het dit wat heilig behoort te wees ’n handelsfees geword –nie ter ere van Jesus nie maar ter ere van Mammon! En om te voorkom dat Kersfees vir heidene aanstoot gee, praat die Mammon-dienaars liefs van die Festive Season.

In sy lelikste vorm is Kersfees vir ongelowiges die geleentheid om te fuif en partytjies te hou sonder om een oomblik aan die ware betekenis van die dag te dink. Honderde mense word jaarliks op Kersdag vir dronkbestuur aangekeer.

Dan is daar ook mense wat die vrede van die Kersverhaal probeer ervaar sonder om die Vredevors in hul lewens in te laat.   Nee, Kersfees is juis ʼn wonderlike geleentheid om mekaar aan die doel van sy koms te herinner: Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk.19:10).

Vergelyk Kersfees met Paasfees.  Die een herdenk Jesus se koms na die aarde en die ander een sy vertrek.  Die een gaan oor ’n geboorte en die ander een oor ’n dood.   Kersfees is ’n tyd van ware feesviering en Paasfees van droefheid oor sonde en verootmoediging voor God.   Ja, daar is ’n tyd vir alles!

Gelowiges moet in die Kerstyd in die goeie sin van die woord ook “gees vang”.  Dit bring ons in ’n ander stemming.  Dit sou wonderlik wees indien ons die Kerstyd-gees in flesse te kon opvang en elke maand een daarvan oopmaak om soos ʼn lekkerruik spuitblikkie ons huise te verfris!

Ek glo dat Kersfees ’n feestelike geleentheid is wat deur God beskik is.   Indien dit ’n heidense ding was, sou God eeue gelede in die kerk ingegryp en dit stop gesit het.   Ons glo mos dat Jesus aan die regterhand van God sit vanwaar Hy sy kerk regeer. Hy weet presies wat Hy met die kerk wil doen.

Gelowiges moet altyd iets mooi van Kersfees maak; hul huise versier en aan kinders verduidelik waarom ons aan mekaar geskenke gee, en baie belangrik dat daar’n God in die hemel is wat gee en nie ʼn Kersvader iewers in die yswêreld nie.   Die hoofsaak is: Vier Kersfees rondom die ware Christus.

Gelowiges moet aan Kersvieringe soos ʼn Kerssangdiens, Kersspel of Kersdiens deelneem.  Dis goed om tydens die Kersgety opgewonde soos ’n kind te wees. Ons Verlosser het immers as ’n kind aarde toe gekom.  Vier Kersfees in vrede met mekaar. Lê die strydbyle neer want wie Kersfees nie in die hart het nie, soek tevergeefs daarna in geskenkpapiere onder ʼn kersboom.

Kersfees gaan oor God se liefde:“Want so liefhet God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het….” (Joh.3:16).   Dit wat God in Christus kom doen het, is die ewige maatstaf van wat liefde is.  Daarom moet ons Jesus se geboorte vier deur liefde te bewys.   Ons onderlinge liefde spruit immers uit God se liefde vir ons.  Dis lekker om by mekaar te wees en iets spesiaal vir mekaar te doen.

Wat sien mense in hierdie Kerstyd in jou huis?   By geleentheid was koning Hiskia dodelik siek waarna God hom wonderbaarlik genees het.  Kort hierna het hy buitelandse besoekers ontvang wat in ’n bondgenootskap met Israel wou sluit.  Tydens ’n besigtigingstoer het Hiskia hulle alles, van sy wapenrusting tot sy skatkamers, gewys en hom in die son van pronklustigheid gebaai.

Toe die uitlanders weg is, vra Jesaja hom: “Wat het hulle in u huis gesien?” (2 Kon.20:15).   Hiskia was skielik baie skaam. Hy het die heidene alles behalwe sy siekbed gewys en van God se genesingswonder getuig.  Hiskia het ʼn gulde geleentheid deur sy vingers laat glip. Moenie dat mense hierdie Kerstyd alles behalwe Jesus in jou huis sien nie!

Ds Andrè vd Berg

Outeur: Ds Andrè vd Berg

Bron: www.gelofteland.org

Volgende Artikel

Lewer Kommentaar

Jou eposadres sal nie gepubliseer word nie.