BESIG OM TE LAAI

Tik om te soek

Karabo & Deborah

Deel

“Krappie!”

“Ja, Ma’borah?”

“Kom hier” mompel Deborah en sukkel met haar kierie en gebreekte voet tot by die groot klip.

Om Deborah te verstaan, moet jy eintlik Deborah wees – van geboorte af.

Alles is haar ma en pa se skuld. Hoekom was dit nodig dat Ma moes dood met haar geboorte? En toe volg Pa se ewige verlange na die seun wat hy nooit kon hê nie. Sy’t gesweer sy sal almal uitsluit nes Pa met haar gemaak het. En toe is Pa ook dood – omtrent dieselfde tyd as wat ou Maria se jongste dogter haar baba hier kom aflaai het en na die naweek weer terug is stad toe. Dit was nie haar keuse om hom in te neem nie. Sy was moeilik en wou nie haar hart en huis vir hom oop maak nie, maar dis eienaardig hoe mens nie eintlik beheer het oor die goedheid wat God in jou kweek as dit Sy wil is dat jy ontvanklik en gasvry teenoor vreemdelinge moet wees nie. Die baba moes maar eers in die kombuis saam met ou Maria groot word, maar vandat hy drie jaar oud was kon sy nêrens heen loop nie of die kind is op haar spoor. En nou is hy al tien.

“Sê my, het jy nou al in al hierdie tyd wat jy so al op my spoor loop, gekyk wat ek doen?” Vra sy kamma kwaai. Sy wil nie afhanklik wees nie, maar het die mannetjie se handjies nodig vandag.

“Ja, Ma’borah.”

“Nou toe loop melk vir Blom.” Sy wou wou nog sê… maar hy’t  klaar omgedraai en al wat sy sien is voetsole. Sy hou hom dop waar hy behendig vir Blom aankeer – haar agter pote vasbind – homself wydsbeen gaan neersit op die klein stoeltjie – en Blom se spene begin bewerk soos ‘n wafferse Deborah.

Die melk skommel wild in die emmer rond toe hy nader gewaggel kom en voor haar gaan staan.

“Nou toe, dan’s jy nog ‘n slim klein Krappie ook, nê?”

“Ja, Ma’,” sê Karabo en kyk hoe sy groot toon ‘n gat in die grond boor. Soms het hy ‘n manier om haar naam af te kort en haar siel sag te maak.

Vir die eerste keer in jare hoor die vlaktes van Welgevonden Deborah se lag. Dit giggel van haar maag af op en kekkel by haar keel uit. Dit smelt haar hart en die emosie borrel oor in trane, oor alles – en nog alles. Sy voel skoon verleë toe sy klein vuil handjie oor hare vryf en hy saggies sê: “Dis oraait Ma’borah, ek sal saam jou loop – elke dag. Dis oraait.”

Sy vee vuil strepe oor haar gesig soos sy haar trane afvee. Dan neem sy ‘n besluit en plak haar hande in haar skoot neer en lig haar ken. “Wel, vandag los ek hierdie kierie net hier, want my Krappie is mos hier!” sê sy en besef dat Karabo die witste tande het wat sy nog ooit aan een mens gesien het.

En toe haak hy sy armpie om haar lyf, want om Deborah te verstaan moet jy eintlik jou treë langs hare neersit – elke dag van geboorte af.

Mier

Outeur: GASVRY

Lewer Kommentaar

Jou eposadres sal nie gepubliseer word nie.