BESIG OM TE LAAI

Tik om te soek

Gemeenskapsprojek

“Dit was asof God self in daardie stilte saam met ons in stof gesit het.”

Deel

Dit was 1999 en ‘n mooi dag in sonnige Suid Afrika. Vir ‘n gemeenskapsprojek van die universiteit waar ek studeer het, het ek ‘n groep gestremde kinders by hulle skool in ‘n arm woonbuurt opgelaai. Ek moes hulle vervoer na ‘n projek waar hulle op perde getel is en vir ritte geneem is. Nie net het hierdie tyd op die perde geweldig baie gedoen vir hulle liggaamlike ontwikkeling nie, dit was vir hierdie kinders die ekwivalent van wat ‘n vakansie na Disneyland vir meer gegoede kinders sou wees-‘n absolute hoogtepunt van hulle week. In daardie bus was die opgewonde gegons van die kinders ‘n Mozart simfonie in my ore.

Daar was hierdie een seuntjie van omtrent 9 jaar oud wat rolstoel gebonde was. Toe ons by die perdestalle stilhou het hy ewe behendig sy rolstoel in een beweging uit die kar uit opgeskiet en gewip tot op die sitplek, reg om hom te haas tot by die perde. Ongelukkig het die rolstoel iewers vasgehaak, omgeslaan en die seuntjie uitgeslinger. Hy het met ‘n harde slag in die stof neer geplons en sy uitgestrekte handjies het perfek in twee duwweltjie bossies te lande gekom. Sy hande het gebewe en trane het spoortjies deur die stof op sy wange gemaak. Terwyl sy maatjie verby hom snel perde toe het ek besef hierdie trane is nie net oor die pynlike dorings in sy hande nie maar ook trane van frustrasie en teleurstelling.

Ek het plat op my sitvlak langs hom in die stof gaan sit. Ek het sy hande in myne geneem en versigtig, een vir een die dorings uitgetrek. Dit was net ons twee daar in die stof wat woordeloos  sit terwyl ‘n mens die kinders in die agtergrond hoor lag by die perde. Toe ek klaar is, vee hy die laaste traan met die agterkant van sy hand van sy wang af. Hy kyk na my en sê saggies: “Dankie”.  Die gebaar het my diep geraak want die seuntjie was Sotho-sprekend en nie Afrikaans magtig nie.

Dit is vreemd hoe sekere oomblikke vir altyd by jou bly. Tot vandag toe onthou ek daardie paar minute in die stof saam met die seuntjie as een van die heiligste oomblikke in my lewe. Dit was asof God self in daardie stilte saam met ons in stof gesit het. Ek het hom in sy rolstoel getel en hy het by sy maatjies aangesluit. Ek weet nie wat is sy naam nie en het hom nog nooit weer gesien nie maar ek sal die tydjie saam met hom nooit vergeet nie.

‘n Rolstoel is nogal ‘n goeie metafoor vir daardie gaping tussen die ideaal en die realiteit. Dit is ‘n gaping wat ons almal goed ken, ook die pyn wat partykeer daarmee saamgaan. Niemand sal uit vrye wil in ‘n rolstoel wil wees nie maar party moet dit gebruik om ‘n mate van mobiliteit en vryheid te kan hê. Partykeer stel ‘n rolstoel so ‘n persoon in staat om plekke te bereik en dinge te doen wat hy andersins nie sou kon nie. Ander kere is daardie selfde rolstoel ‘n pynlike herinnering aan die feit dat die gebruiker nie so mobiel is soos wat hy graag sou wou wees nie. Partykeer gee ‘n rolstoel jou vlerke en ander kere voel dit soos ‘n tronk. Soos wanneer jy by die perde wil uitkom en dit omslaan…

Ons het almal metaforiese rolstoele. Dinge wat ons noodgedwonge moet aanvaar, situasies wat ons nie gekies het nie waarin ons die beste van ‘n slegte saak moet maak. Partykeer werk dit en ander dae smag ons daarna om ontslae te wees van die beperkinge wat sulke omstandighede op ons sit.

Die lewe het my geleer dat om op sulke moeilike dae langs iemand in die stof te gaan sit en versigtig dorings te help uittrek, die lewe die moeite werd kan laat voel. Ek het ook geleer dat wanneer my eie rolstoel omslaan, ek my hande moet oopmaak en hulp dankbaar moet verwelkom.

Valentynsdag is om die draai. Dit is ‘n dag waarop mense geld spandeer om vir ander iets te wys van die liefde wat in hulle hart is. Dit is nie  verkeerd nie. Maar ek dink jy wys meer eintlike liefde vir ‘n persoon wanneer jy in die stof saam met hom of haar sit en prakties help as wanneer jy in ‘n duur restaurant sit en probeer beïndruk.

Gabriel

Outeur:

Gawie Snyman is ‘n storieverteller en ‘n dromer. Hy woon tans in die noorde van Alberta, Kanada saam met sy vrou Isabel en twee kinders Steph en Marise. Hy kan gekontak word by gawiesnyman7@gmail.com

Volgende Artikel

Lewer Kommentaar

Jou eposadres sal nie gepubliseer word nie.