BESIG OM TE LAAI

Tik om te soek

O, help ‘n bietjie da …

Deel

Het jy al ‘n punt bereik waar jy voel of jy totaal, geheel en al aan gasvryheidsuitputting ly?

Wel, ek en my man verskil wêrelde van mekaar op hierdie punt. Hy is ‘n ou wat binne ‘n paar sekondes ‘n kuier aanmekaar kan slaan, terwyl ek sou verkies om ‘n rustige aandjie tuis te hê.

Ek het op ‘n dag net besluit om die bul by die horings te pak, my woorde mooi gekies en gesê: “Pappa, ons moet praat. Mamma is moeg en hierdie-kuier ding gaan haar nog laat neerslat!” Ek moes dit speels hanteer om sy begrip en samewerking te kry en sy geamuseerde glimlag was die teken dat ek geslaag het.

Na ‘n sinvolle gesprek het ons ooreengekom om mekaar so bietjie te help om die grom uit die ‘kuiers’ te haal en ons vriende & familie met hartlikheid te ontvang:

Hierdie 5 punt plan werk vir ons:

1. Almal help. Ek versprei die take onder my man en kinders so vêr as moontlik. Manlief hou nie daarvan om die tafel te dek nie, maar hy is bereid om gou winkel toe te ry vir daardie laaste minuut inkopies waarvoor ek nie tyd gehad het nie.

2. Beplan vooruit. Hierdie punt het BAIE stres van die tafel afgehaal. Nou kan ek sit en die spyskaart behoorlik beplan en weet wanneer wat gaan gebeur!

3. Spontane kuiers kan ook groot pret wees. Ons het al van ons lekkerste kuiers gehad wanneer ons mense op die ingewing van die oomblik oorgenooi het. (Hierdie afdeling is eintlik my man s’n) In hierdie gevalle sou ons sommer net ‘n vinnige pasta of worsbroodjies en slaai maak. Hou die spyskaart maar eenvoudig.

4. Laat jou gaste toe om by te dra. Dalk sal ek nou nie vir gaste wat die eerste keer by ons kom kuier vra om iets saam te bring nie, maar voel dat dit heel in orde is wanneer iemand ‘n slaai, of ‘n pot pap wil bring om by te dra. Ek is vir ewig dankbaar as my taak ligter is en daar meer tyd is om saam met die gaste deur te bring.

5. Moenie probeer om ander te beïndruk nie. Miskien was dit die heeltyd nog deel van my probleem. Ek wil so graag voel dat alles perfek is en dat die gaste nie sleg van ons sal dink nie! (Ai tog) Maar die waarheid is dat hulle agterna die heerlike samesyn meer onthou as die mooi borde waaruit hulle geëet het of hoe skoon die huis was!

Ek het nogal lanklaas aan gasvryheidsuitputting gely 🙂

Mier

Outeur: GASVRY

Vorige Artikel
Volgende Artikel

Lewer Kommentaar

Jou eposadres sal nie gepubliseer word nie.

error: Inhoud het kopiereg