BESIG OM TE LAAI

Tik om te soek

Gasvry teenoor Onthaal

Deel

Is daar werklik ‘n verskil tussen onthaal en gasvry wees?

Party sal sê: Soveel mense, soveel opinies, maar as mens die twee van nader bekyk is daar tog duidelike verskille. Nie dat die een reg is en die ander verkeerd nie, dit hang seker net af van jou persoonlikheid en filosofie van watter styl jou beter geval.

 

Dit is weer daardie tyd van die jaar. Vrolike afsluitingsfunksies by die werk na ‘n jaar van swoeg en sweet – ‘n Somer tuintroue met vriende en familie – ‘n Straatbraai met al die bure en lede van die buurtwag, ensovoorts. Een ding is seker, hierdie tyd van jaar gaan daar nie een naweek verby sonder ‘n behoorlike kuier nie!

“Om te kuier bly maar eenvoudig een van ons

Suid-Afrikaners se top talente!”

Die persoon wat lief is vir onthaal is gewoonlik baie geoganiseerd en doen baie moeite met detail. Van die uitleg van die spyskaart tot die fynste besonderhede van die tafel dek en vermaak vir die gaste. Om ‘n gesellige onthaalfunksie te organiseer is ‘n gawe en kom sommer natuurlik vir party mense. En dan kry mens ouens soos ek. Wanneer die gaste opdaag raak ek so aan die gesels en kuier dat ek skoon vergeet om tafel te dek! Dit het al gebeur dat die vleis en braaibroodjies gebraai is, en dan het ek nooit daarby uitgekom om slaai te maak nie. Iemand het my die ander dag probeer troos en gesê dat dit nie beteken dat ek ‘n swak gasvrou is nie, “onthaal en organiseer is maar net nie jou ding nie” So ek haal my hoed af vir die wat dit netjies kan doen.

Ek hou daarvan om mense oor te nooi vir ‘n informele koppie tee en dan eet ons koek wat ek by die tuisnywerheid gekoop het. Dan kan ons ure klets oor alles en wat. Ek hou van mense se stories en beland keer op keer pens en pote binne in hulle lewens. Dan help ons waar ons kan. Verlede maand het ek aan die ontvang kant gestaan toe ons waterpyp gebars het en my vriendin aangebied het dat ons by hulle kom bad – twee dae in ‘n ry! (Dankie vir jou gasvryheid, vriendin)

Ek is lief vir kuier. Ek hou van funksies, troues, partytjies en natuurlik my gunsteling – BRAAI. Maar ek is veral lief vir die mense wat dit bywoon. En vir die spesiale mense wat presies weet hoe om te onthaal sodat ek net kan terug sit en ‘n goeie gas kan wees, ek is spesiaal lief vir julle!

Mier

Outeur: GASVRY

Lewer kommentaar

Jou eposadres sal nie gepubliseer word nie.

error: Inhoud het kopiereg