BESIG OM TE LAAI

Tik om te soek

Die avonture van ‘n Yspad Dominee

Deel

Vir die afgelope twee jaar noem ons Fort McMurray in Alberta, Kanada ons huis. Fort McMurray is ‘n dorp wat se ekonomie en bevolking nou verwant is aan die olie industrie. Die gebied is ryk aan olie; dit sypel letterlik uit die sand. ‘n Mens kan amper aan Fort McMurray dink as ‘n Secunda op steroïdes en sonder inbrake. Die gemiddelde bevolking is jonk, 34 en vrugbaar, gemiddeld drie kinders per ouerpaar. Die lewenskoste is hoër as meeste plekke in Kanada maar die salarisse gelukkig ook. Dit is hier waar ek die afgelope twee jaar as predikant werk en my vrou as fisioterapeut. Ons kinders is 12 en 9 en in die skool hier. Fort McMurray was goed vir ons. Ons het gewoond geraak en aangepas by alles wat vreemd en nuut is-ook redelik goed by die lae wintertemperature wat tot minus 40 grade onder vriespunt kan daal hier.

Die grootste gedeelte van Kanada se bevolking bly suid, digby die Amerikaanse grenslyn. Hoe verder noord ‘n mens gaan, hoe yler raak die bevolking. Ry jy byvoorbeeld op van Edmonton na Fort McMurray, 500 km noord, begroet morge en morge ongerepte “Crown Land” jou. Dit is digbeboste areas waar geen mens nog was en geen eiendomsregte nog toegestaan is nie. In Fort McMurray is dit nie vreeslik raar dat die parke raad ‘n swartbeer gedurende die somer uit die woonbuurte moet kom verwyder nie. Wolwe en Coyotes is volop in die bosse rondom Fort McMurray asook White Tail Deer en die befaamde “Moose”. Baie mense hier het ‘n storie om te vertel van ‘n noue ontkoming met ‘n Moose op die snelweg.

Kanada is ‘n grooooot land. Al sien baie mense Fort McMurray as ver noord op die eindpunt van die aardbol, kan ‘n mens nog heelwat noord trek as jy braaf is. Bo Alberta lê die Yukon en die Northwest territories. Die Northwest territories beslaan ‘n area van 1,183,085 vierkant ‘n kilometer maar die populasie is maar ‘n skamele 44 000 mense. Ongeveer die helfte van hierdie mense woon in die hoofstad, Yellowknife so ons praat regtig van ‘n Namibië in terme van bevolkingdigtheid.

Ry ‘n mens noord op van Fort McMurray, hou die teerpad na 80 km op in die middel van nêrens. Daar is dan ‘n stuk grondpad wat ook ophou-nog dieper in die middel van nêrens. Verder aan is dit net moeras en rivier maar 300 kilometer noord van Fort McMurray is daar ‘n klein dorpie bekend as Fort Chipewayan. Hierdie dorpie het soos Fort McMurray ontstaan rondom die pelshandel omdat die gesogte beaver en wolfpelse hier volop te jag is. Fort Chipewayan is in die somer net per vliegtuig of per boot bereikbaar. Die Athabasca Rivier vloei noord vanuit die Rockies in die suide deur Fort McMurray en Fort Chipewayan tot by die noordpool. In die winter kan Fort Chipewayan bereik word per kar want die moerasse en riviere ys dan kliphard en vorm ‘n yspad. Dieselfde gebeur tussen Fort Chipewayan en Fort Smith wat die eerste dorpie in die Northwest territories is.

Nie baie mense sien kans vir hierdie tog nie. Die temperature is baie laag en die pad is verlate. By die rivierkruisings is daar regeringsvoertuie wat nou en dan water onder die ys uitpomp en bo-op die kruising spuit, sodat die yslaag kan sterker word en jou veilige oorgang verseker, maar behalwe vir dit is daar geen beskawing, vulstasies of huise op die pad nie. Sou jou kar moeilikheid kry sal jy Bear Grylls vaardigheid aan die dag moet lê om aan die lewe te bly. Nie baie mense sien kans daarvoor nie, maar weens ‘n avontuurlustige geen wat ons geërf het van ons afrikaner voorsate wat eens op ‘n tyd, so is ons vertel, kaalvoet oor die Drakensberge is, het ons besluit om die pad aan te pak. Hierdie ons, is ek en my gesin, my vriend Marius wat ‘n loods is in Fort McMurray, Phillip en Yolandi en hulle twee seuns wat maar pas twee maande terug uit Bloemfontein hier aangekom het om onderskeidelik as onderwyser en fisioterapeut te werk en Michelle en Tyler, twee Kanadese in my gemeente. Ons het die tog aangepak met twee nuwe Toyato Rav 4’s ‘n massiewe Dodge RAM bakkie en ‘n ewe groot Ford Explorer. Met dit en baie geloof in die voorsienigheid (en ‘n paar konkas ekstra petrol vir waar daardie geloof nog tekort skiet) het ons op 30 Januarie 2018 uit Fort McMurray vertrek.

Die eerste besienswaardigheid was die “Giants of Mining” nog op die stukkie teerpad. Dit is die massiewe masjiene wat eens gebruik is om die olie uit die sand te myn. Staalreuse kyk onheilspellend op jou af. Interessant hoedat masjiene en meganika jou beide kan trots maak op die mensdom en kan bang maak vir die mensdom. Die oliebedryf is in die spervuur. Die wêreld beweeg definitief stadig maar seker weg van olie. Dit word al hoe meer gesien as ‘n “vuil” bron van energie wat die natuur skade aandoen. Dit sal egter nog ‘n hele rukkie met ons wees. Dit was goed om te sien hoedat die oliemaatskappye darem moeite doen met rehabilitasie van areas wat klaar gemyn is. Amper soos advertensieborde, verkondig borde langs die pad aan jou dat jy nou verby ‘n gerehabiliteerde mynarea ry en op sommige van hierdie areas wei daar selfs bisons wat oorspronklik in hierdie gebied voorgekom het.

Toe die yspad begin, is daar ‘n holkol van ongewondenheid met ‘n tikkie vrees op my maag.  Ons klim uit om foto’s te neem. Dit is minus 20 grade. My handskoenvingers kry nie my selfoonkamera se knoppies gedruk nie. Dit verander die foto nemery in ‘n reisies, want baie gou pyn jou hand van die koue as jy jou handskoene uitrek. Asem jy diep in, kan jy voel hoe die haartjies in jou neus hard ys. Ons vertrek. Die geluid wat die wiele op die ys maak is anders as enige wiel geluid wat ek nog gehoor het. Dit is ‘n woer geluid wat elke nou en dan onderbreek word met die geluid wat nikkerbolle maak as jy hulle met jou tong tussen jou tande rondskommel.  Die wêreld rondom ons is dik en wit gesneeu. Die takke van die bome is so dig met sneeu bedek dat dit lyk asof iemand wit verf daaroor uitgegiet het. Die natuur roep hard en ek moet stop. Toe ek na ‘n bossie struike toe stap om in privaatheid die natuur se roep te gehoorsaam, sak ek kniediep weg in die sneeu. Gelukkig het ek minus 40 grade sneeustewels aan. Jy het nog nie langs die pad gepiepie totdat jy ‘n diep gaatjie in die sneeu in minus 25 grade gepiepie het nie!

Ons bereik ons eerste ysrivier kruising. Jou Afrika psige sê vir jou ys is iets om te vebry behalwe as jy dit in jou brandewyn moet gooi. Alles in jou wantrou hierdie storie. Marius ry voor. Toe hy die rivier oorsteek, wag ek eers totdat hy anderkant uitkom terwyl ek hartseer dink hoe ek al die goeie tye wat ons saam gedeel het sal mis as hy nou hier voor my in die ys wegsink. Maar Marius haal die oewer en dit is my beurt. My hart mis ‘n slag toe ek in die middel van die rivier ‘n klots geluid hoor en besef ek ry deur ‘n poel water. Vir ‘n oomblik is ek vas oortuig ons gaan  ‘n wrede koue dood te gemoed sink, maar toe onthou ek dat die munisipaliteit gereeld die ys kruisings met water kom bespuit om dit sterker te maak. Ek ontspan en die kinders giggel van opgewondenheid.

Ons kruis nog drie riviere voordat ons uiteindelik die radiomaste van Fort Chipewayan agter koppies sien uitsteek. Die laaste kruising is die grootste. ‘n Paar karre kom van voor af en dit is asof almal onseker is waar om te ry. Steeds is my fokus om so gou moontlik van die rivier af te kom. ‘n Ysrivier se gasvryheid is die laaste ding wat ek wil beproef. Dit is soos ‘n kuier by jou skoonma-hoe korter hoe beter.

Ek voel soos ‘n pionier toe ek Fort Chipewayan binnery. Ek verwag vreugdesvure en Dene en Creek First Nations stamme wat ons in tradisionele drag toejuig toe ons binnery. Niks van die aard nie. Vir die mense hier is dit die normaalste ding in die wêreld om die 300 kilometer tussen Fort Chipewayan en Fort McMurray op ‘n yspad te ry. Die ontvangsdame by die hotel vertel my dat baie dit met tweewiel aangedrewe sedans doen. Ons boek in ‘n knus hotel en kuier lekker saam. As dit minus 30 is, verwittig ‘n mens jouself ‘n stewige sopie Cinnamon Whiskey. Dit proe soos die “Fireballs” wat ons as kinders geëet het. Wat ‘n mens nie alles sal doen om die vuur in jou gestook te hou in ‘n koue, donker wêreld nie!

Dit is minus 34 vanoggend!

Die volgende oggend is ons net na sonsopkoms reg om alles aan te durf wat Fort Chippewayan ons bied. Dit beteken ons is 9:30 am buite. Dit is minus 34 vanoggend! Ons gaan na die plaaslike kerk toe. Dit is ‘n Rooms Katolieke kerk wat uitkyk oor ‘n massiewe meer. Voor die meer is ‘n kruis geplant en net agter die kruis op ‘n stuk ys in die meer is daar stoom wat opstoot agter die kruis. Jy moet regtig ‘n swak fotograaf wees om nie ‘n indrukwekkende foto daarvan te kan neem nie.  Ons besoek ook ‘n ander uitkykpunt. Die anderse yswêreld slaan jou asem weg-aanvanklik vanweë die skoonheid maar dan vinnig vanweë die koue. Dit is komies om te sien hoe almal na hulle karre toe hardloop na ‘n skamele vyf minute buite. Ek lag toe ek dink hoedat ek myself ‘n paar jaar gelede jammer gekry het toe ek tydens Smithfield se bibberfees gewag het vir ‘n bergfietswedren om te begin.

Ons volgende stop was ‘n besonderse een. Robert Granjambe, ‘n plaaslike Cree man vat ons vir ‘n hondeslee rit.  Hy is ‘n gawe kêrel. Ons stap na sy agterplaas waar ‘n kamp vol honde aan kettings vasgemaak, maar met kabels vir beweeglikheid, opgewonde vir ons wag. Die honde is Husky honde met wolf gemeng. Party lyk baie meer wolf as Husky maar hulle is baie vriendelik en liefdevol. Robert is uitgevat in tradisionele leer drag en skoene. Hy plant twee van ons in ‘n slee en laat ‘n derde saam met hom agter staan. Die honde lyk of hulle mal is daaroor. Hy vat ons rivier langs en deur ‘n paadjie wat hy netjies uitgekap het. Ptarmigan voëls vlieg voor ons op.  Die koue byt. Gelukkig sit ek agter in die sleë met Marius se twaalfjarige dogter voor my. Sy is soos die jong meisie wat hulle gekry het om teen aan die ou Dawid te lê sodat hy kan warm word. Ek kry haar egter jammer want ek voel hoe haar ribbekas bewe van die koue. Almal kry hulle beurt en na die tyd kan ons elkeen ‘n sleehond beloon met ‘n stuk vis wat uit die aard gevries is.

Die middag besoek ons die plaaslike museum. Netjiese uitstallings en voorstellings van die beginjare in hierdie gemeenskap begroet ons. Ons kyk na die slagysters van die “trappers” en hulle imposante bison jasse. Dit kon nie maklik gewees het om in hierdie omstandighede sonder elektrisiteit klaar te kom nie. ‘n Mens voel altyd vorige generasies was sterker as jy, as jy na hierdie tipe dinge kyk. Miskien sou hulle ons weer bewonder het vir die uitdagings wat ons te bowe kom in ons tyd as hulle dit sou kon sien.

Dit is 31 Desember. Dit is tyd om Fort McMurray toe te gaan maar ons en die Kandese paartjie se avontuurlus is nog nie genoegsaam geblus nie. Ons besluit om deur te ry na Fort Smith toe en oujaarsaand daar oor te slaap. Ons is nou immers ervare yspad avonturiers. So gesê en so geaak. Ons groet ons Suidafrikaanse vriende. Ek onthou van die Dorslandtrekkers wat ook gegroet het om verder noord te gaan en so hulle moses teëgekom het. Is ek miskien uit dieselfde domastrante patroon gesny? Wel, ten minste sal ek vandag uitvind…

Die pad Fort Smith toe begin met ‘n stuk deur ‘n moeras vlakte wat my baie aan die Vrystaat herinner. Dan skielik ry ons ‘n dig bebosde  gebied binne. Die bome se toppe raak op plekke aan mekaar aan weerskante van die pad. Dit is ‘n winter wonderland op sy mooiste. Weer verf die sneeu alles wit. ‘n Mens sien skaars ‘n stukkie bas uitsteek. Die laaste stuk Fort Smith toe is ‘n gelyk en so wyd soos die Heer se genade. Ek vind dit moeilik om die RAV by die 90 kilometer per uur spoedgrens te hou. Dit is asof die kar stal ruik en my vrou het al haar dae om die leisels terug te trek.

Ons kom doodhonger in die dorpie aan en is baie opgewonde toe die GPS vir ons wys dat daar ‘n Tim Hortons in Fort Smith is. Tim Hortons is ‘n Kanadese koffie ketting groep. Saam met duisende Kanadese het hulle ons oor gewen. Partykeer wonder ek of hulle nie heimlik hulle koffie dokter met dwelms wat jou laat terugkom vir nog nie. Tim Hortons is egter vir een of ander onverklaarbare rede toe op ‘n Maandag in Fort Smith. Wat ‘n teleurstelling! Maar ons is nou in die Northwest Territories. Hier werk dinge anders en niemand skuld ons ‘n verduideliking nie. Ons vind wel ‘n Kentucky wat in die voorportaal van ‘n inkopie winkel is. Toe ek die “big box” bestel en vra waar is my slaai wat hulle op die prentjie beloof, sê die kelner vir my hulle doen nie die slaai hier in Fort Smith nie. Ek sê vir hom dit is doodreg so…ek het in elk geval nooit van die slaai gehou nie. Hoekom sal ‘n mens nou ‘n olierige stukkie hoender wil bederf met ‘n stukkie slaai? Ek hou van hoe die mense hier dink.

Fort Smith is ‘n dorp geleë aan die “Slave Rivier”. Hierdie gedeelte van die rivier is bekend vir sy vloedversnellings. Hierdie vloedversnellings is so wild dat die water in dit nie eers smelt in minus 30 nie. By ‘n uitkykpunt daar naby kry ‘n mens ‘n pragtige uitsig oor hierdie rivier. Dit is in die somer die tuiste van skaars “Whooping Cranes” en pelikane. Hierdie voëls weet egter wat goed is vir hulle en migreer suid in die winter.

By die plaaslike museum hoor ons allerlei interessante staaltjies oor die dorp en sy mense.  Daar is byvoorbeeld die interessante dokter Cass, ‘n merkwaardige vrou wat haar in 1928 as dokter in Engeland bekwaam het. Sy was ‘n besonder skrander en mooi vrou. Die avontuurlus het haar van jongs af beetgepak en so is sy fort Spanje toe waar sy verlief geraak het op die Spaanse kultuur. Sy het vir ‘n kort ses maande ekskursie Fort Smith toe gekom om uit te help met ‘n swak sig probleem wat skielik wydverspreid onder die Fort Nation stamme in die gebied voorgekom het. Sy het vasgestel dat die probleem lê by hulle dieet wat verander het met die koms van Europeërs en dit uiters suksesvol behandel. Haar ses maande het verander in die res van haar lewe. Sy het nooit getrou nie maar later ‘n jong Spaanse man ingevoer as huishouer en daarmee die skinder tonge op die dorp laat gons.

Daar is natuurlik ook baie stories oor die rivier en mense wat daar verdrink het. Eenkeer moes twee verkenners hulle groep per geweerskoot laat weet of die stroomversnellings vorentoe begaanbaar is. Een van die verkenners het egter vergeet van die reëling en na ‘n eend geskiet. Die geselskap het stroomaf gekom en so het vyf mans verdrink. Eish. Tydens die tweede wêreldoorlog is daar ‘n kontingent van tweeduisend Amerikaanse soldate deur Fort Smith om Alaska te gaan beskerm. Toevallig was hierdie soldate omtrent almal swart Afro-Amerikaners. Die aantal soldate was destyds vier keer meer as die dorp se inwonertal en vir meeste inwoners was dit die eerste keer wat hulle ‘n swart persoon gesien het nie. Geen wonder die stukkie inligting word in die museum bewaar nie. Dit moes ‘n aardskuddende belewenis vir die inwoners gewees het.

In die hoofstraat is daar ‘n besondere imposante Rooms Katolieke kerk. Toe ek die kerk sien, dink ek by myself dat nog hierdie dorp se populasie of kerkganger getal groot genoeg was om so groot kerk te regverdig. Ek was reg. Die kerk is gebou as die sentrale hoofkapel van die Northwest Territories. Dit was in die tyd toe Fort Smith eerder as Yellowknife gesien is as die aangewese hoofstad van die Northwest Territories.

Die aand woon ons ‘n vuurwerkvertoning op die rivieroewer by. Kinders gly met sleë by ‘n baie skerp klofie af. Daar is ‘n groot kampvuur en warm sjokolade. Almal is so dik aangetrek dat ek die gevoel kry niemand sien eers raak dat ons nie plaaslike inwoners is nie. Die vuurwerke was van die bestes wat ek nog gesien het. Iewers moes daar ‘n stewige begroting gewees het om hierdie aand moontlik te maak.

Ons sluit die aand af deur die kinders in die bed te sit en saam met Michelle en Tyler na “The Dirty Fergie” toe te gaan. Dit is die kroeg aangrensend aan die hotel waar ons oornag. Vroeëer die aand het die kroegman daar ons genooi na die oujaarspartytjie. Hy het ons vertel die hele dorp gaan opruk soontoe en hulle verwag ‘n vol kapasitiet van 150 mense. As jy in Fort Smith woon is 150 mense vir jou soos ‘n Steve Hofmeyer gehoor op Hartenbos-Baie! Toe ons 9:00 pm daar opdaag, is daar 8 mense-saam met ons. Ons word egter verseker dat die groot gros oppad is. Ons kry nuwejaarshoedjies en ‘n bottel sjampanje. Teen 11:00 was daar nege mense en kon ons, ons oë nie meer oophou nie. Al breek my hart vir die hoopvolle kroegman en sy span, het ek halt geroep en het ons 2019 in geslaap.

Die volgende dag was ‘n harde dag. Die terugtog het ons nege ure gevat. Die nuutjie was verby en ons was moeg. My dogtertjie het begin naar raak en die spanning het hoog geloop. Om op ‘n yspad in die donker met ‘n naar kind te bestuur is nie iets wat ek vir enige iemand sal aanbeveel nie maar soos elke goeie pa weet is sulke situasies partykeer onvermydelik. Eind goed; alles goed. Terug in Fort McMurray was die temperatuur minus 1 wat toe vir ons sommer soos somer gevoel het! Ons het by die huis gekom, gretig om ons foto’s op Facebook te deel en vir Weg te skryf. As jy wil kom kuier en op so tog wil gaan, bel my. Die yspad is oop vanaf November tot April. Die hele ekskursie was verbasend bekostigbaar, so as jy in Kanada is vir kinders of werk, is dit definitief iets om te oorweeg. Dit was ‘n ervaring duisend.

Gabriel

Outeur: Gawie Snyman

Vorige Artikel
Volgende Artikel

Lewer Kommentaar

Jou eposadres sal nie gepubliseer word nie.

error: Inhoud het kopiereg