BESIG OM TE LAAI

Tik om te soek

Capital Singers

Deel

Ons hele familie sing en koorsang is iets waarmee ek groot geword het. Ek kan nog onthou hoe ek op die voorste kerkbank gelê het en luister na die stemme wat oefen. My pa was op daardie stadium die kerk se koormeester. Ek het my kop so entjie van die houtbank af gelig, sodat my oor net effens aan die bank raak wanneer die volledige koor die lied in stemme sing. Ek kan nog onthou hoe die klank teen my oor vibreer het wanneer alles in perfekte harmonie was. Ek was toe maar vyf jaar oud. Ek was 12 toe ek saam met die volwasse koor kon sing en was mal daaroor! Ek kan vandag nog vir ure na goeie koormusiek luister.

Ons lewe is vandag so gejaag en besig, maar om in ‘n goeie koor te sing is iets waarna ek steeds verlang. My skoondogter is die eerste een in ons familie wat saam met haar vriendin deelgeneem het aan Capital Singers. Capital Singers is Suid-Afrika se vlagskip gemeenskapsprojek wat die geleentheid gee aan lede van die publiek wat lief is vir sing maar nie noodwendig tyd het om aan ‘n permanente koor te behoort nie. Die sangers raak dan deel van iets groters en kry die geleentheid om die realiteit van die alledaagse lewe te ontsnap deur te sing saam met die land se bestes in n kompakte 4 dag produksie.

Ek en my sus het saam met my skoondogter ingeskryf vir die 1-5 Mei 2019 produksie: Rewind 70’s & 80’s – wat ‘n ongelooflike ervaring! Elke liewe aspek van die produksie is haarfyn beplan. Michael Barrett en Christo Burger is uiters professioneel en hulle humorsin maak van harde werk groot pret! Die grootste opwinding is die optredes self – om in ‘n koor van 1000 lede saam met bekende sangers in die Sun Arena Time Square te sing laat my tone nou nog krul van lekkerte!

 

As jy lief is vir koor sing is die volgende produksie van 5 – 8 September 2019 ‘n groot moet op jou 2019 kalender. Die inskrywings sluit 5 Julie 2019. Moet dit nie misloop nie – Doen dit vir jouself!

Mier

Outeur: GASVRY

Vorige Artikel
Volgende Artikel

Lewer Kommentaar

Jou eposadres sal nie gepubliseer word nie.

error: Inhoud het kopiereg