BESIG OM TE LAAI

Tik om te soek

Deel

Die volgende etiket en wenke bied ‘n paar riglyne vir die eenvoudige beplanning en voorbereiding van ‘n besigheidsete:

Beplanning

  • Stel vas wanneer die uitnodiging uitgestuur word of die gas(te) sekere voorkeur disse het.
  • Stel ook ‘n keuse van twee of drie restaurante vir die gaste voor en versoek om hul antwoord van keuse voor ‘n sekere datum terug te ontvang.
  • Indien ‘n groot groep teenwoordig gaan wees is dit raadsaam om ‘n restaurant te kies met ‘n groot verskeidenheid van disse op die spyskaart.
  • Stuur uitnodigings vir eige besigheidsete vroegtydig uit en maak seker dat die datum en tyd al die betrokkenes se besigheidskedule pas.
  • Kies ‘n bekende restaurant wat jy al dikwles besoek het en wat ingerig is om vir besigheidsetes te onthaal en toegerus is met ‘n kragpunt vir toestelle soos selfone, tablette en skootrekenenaars. Dit sal tot jou voordeel wees wanneer die bestuur of kelners jou ken wanneer jy daar aankom.
  • As gasheer, moet jy jou gas(te) inlig oor wat hulle kan verwag en wat die formaat van die ete afspraak behels om hulle toe te laat om daarvoor voor te berei en enige relevante materiaal of dokumente saam te bring wat nodig mag wees.
  • Hou ook in gedagte dat as iemand redelik vêr moet reis om die restaurant te bereik, dit eerder jy as jou gas(te) behoort te wees.
  • Die tyd wat die middagete beplan word sal hoofsaaklik deur die besigheidskedule van die betrokke partye bepaal word. In groot stede word 13:00 as die normale etensuur geag, terwyl 12:00 eerder as die norm geag mag word in plattelandse dorpe.
  • Bevestig die tyd en plek met jou gas(te) en herhaal later weer al die besonderhede van die uitnodiging in ‘n opvolg gesprek of korrespondensie.
  • Bespreek ‘n tafel voor die tyd. Indien die betrokke restaurant bekend is aan jou en jy ‘n voorkeur tafel het, moet dit tydens die bespreking bevestig word.
  • Bevestig die afspraak met die restaurant ‘n dag voor die tyd.

Aankoms by die restaurant

Goeie etiket en die indruk wat jy op jou sakegeselskap maak, begin wanneer jy by die restaurant aankom.

Wees betyds – dit word as die goue en belangrikste reël van enige afspraak geag. Om selfs vyf of tien minute te laat kom, skep ‘n swak indruk en stuur ‘n negatiewe boodskap aan die res van die sakegeselskap en restaurantbestuur.

Toepaslike kleredrag – Stel vas by die restaurant wat die dragkode is en stel al die betrokke persone in kennis om ‘n verleentheid te vermy.

Wanneer die gas voor die gasheer by die restaurant opdaag, is dit etiket om in die ontvangslokaal vir die gasheer te wag. Dit is nie gepas om by die tafel te wag nie.

Die gasheer sal ook sy eerste gaste by die ontvangslokkaal inwag. Volg die kelner saam met die eerste gaste na die tafel. Die kelner sal dan alle gaste wat daarna aankom na die tafel vergesel.

Betaling van die rekening

Die persoon wat die uitnodiging doen, betaal die rekening. As iemand jou nooi vir ‘n ete afspraak en die kelner plaas die rekening op die tafel, is dit nie goeie etiket om die rekening eerste op te raap om te kyk wat die koste is of om die rekening te betaal nie. Laat die persoon wat jou genooi het die geleentheid kry om die rekening na te gaan en die betaling te doen.
Die persoon wat die uitnodiging gedoen het moet vooraf met die kelner reël om die rekening vir hom/haar te bring. Maak ook voor die tyd seker wat die restaurant se beleid en berekening van fooitjies is en of dit nie reeds by die rekening gevoeg is nie.

Dankie

Beide gas en gasheer kan na afloop van die ete afspraak notas van waardering of vir mekaar stuur of bedanking vir die heerlike ete telefonies kommunikeer.

Gesellige etes het al menigmaal bygedra tot die klink van suksesvolle saketransaksies en is beslis ‘n gewilde manier om waardering vir goeie werk en besigheid te beloon.

Mier

Outeur: GASVRY

Lewer Kommentaar

Jou eposadres sal nie gepubliseer word nie.