BESIG OM TE LAAI

Tik om te soek

Basiese Menseregte

Deel

Ek is ‘n Suid-Afrikaner wat tans in Kanada bly. My oupa noem my ‘n “Hanskaki”, party noem my slim en braaf en ander noem my gelukkig. Maar drome lieg nie en as ek droom in die aande is dit drome in Afrikaans oor Suid Afrika. My kompas is my geskiedenis, herinneringe en ervarings in Suid-Afrika en dit sal so bly selfs al sou ons baie jare hier woon.  Dit beïnvloed en filter hoe ek dinge sien en watter gevolgtrekkings ek oor my ervarings hier maak. Ek is uit Suid-Afrika uit maar Suid-Afrika is stewig in my identiteit vasgemessel.

Daar is party beelde van Suid-Afrika wat jy net nie uit jou kop uitkry nie. Party is mooi en aangenaam en party is hartseer en stroef. Ek onthou byvoorbeeld ‘n spesifieke robot kruising in Northmead, Benoni wat ek elke dag ‘n paar keer deurkruis het. By hierdie kruising was daar altyd ‘n groep mans, partykeer tot soveel as vyf en twintig, wat in spitstyd hoopvol gestaan en wag het dat iemand hulle in diens neem. Party het met plakkate gestaan waarop hulle, hulle ambag geadverteer het. Baie was verwers. Ander het  met troffels of teël apparate gestaan om so te wys wat hulle kan doen. Heel dikwels het ek gesien hoedat ‘n bakkie stop en ‘n stuk of vyf oplaai. Die verligting en genoegdoening was op elke gesig te lees wanneer hulle, hulle sit agter op die bakkie gekry het. Maar daar was altyd ‘n paar wat nie opgelaai is nie. Partykeer, wanneer ek later die oggend daar verbygery het, het hierdie agtergeblewenes (in die mees letterlike sin van die woord), lusteloos op die sypaadjie gesit en voor hulle uitgestaar. Ander het in die son gelê en dut.

Daar was altyd ‘n beklemming om my hart wanneer hierdie toneel voor my afgespeel het. Daar is min dinge so hartseer soos iemand wat gewillig en gretig is om te werk en nie gelukkig genoeg is om werk te kry en daarvoor vergoed te word nie. Die versoeking was partykeer groot om ‘n ander pad te vat sodat ek dit kon vermy om hierdie manne te sien maar dit sou vir my al te baie voel of ek een van die slegte ouens in die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan is, so ek op koers gebly.

Een wintersoggend het ek ‘n man met ‘n bakkie gesien stop. Die man het egter niemand opgelaai nie maar sy bakkie se kappie oopgemaak en warm sop en brood bedien aan die ouens wat nie werk gekry het nie. Ek het nader gestap en verneem dat hy van ‘n kerk in ‘n arm deel van Benoni is. Ek het hom gehelp om sop uit te deel. Eventueel het ek ‘n ander groep plaaslike mense georganiseer om op ‘n Woensdagaand as van die manne terugkeer, ook ‘n koppie sop en brood reg te hou.

Ek het by van die manne gaan sit en na hulle stories geluister.

Party het my gevra om vir hulle te bid wat ek dan gedoen het. Ek het verwag dat om hierdie stories te hoor my nog meer mismoedig oor hulle lot en sommer ons land se toekoms sou maak. Die teendeel het gebeur. Ja daar was baie hartseer stories maar ek het ontdek dat meeste ouens hoopvol is en ‘n plan het en hulleself stukkie vir stukkie opwerk en vorentoe beweeg. Ek het later selfs met een van hierdie mans bevriend geraak, hom los werkies gegee en hom toegelaat om in my buitekamer te woon. Ons het groot vriende geraak en vandag het hy ‘n vaste betrekking.

Wat my by bly van my tyd saam met hierdie manne is die insig dat mense se probleme oorweldigend kan lyk en jou angstig kan maak as bloot net op ‘n afstand bly. Dit is wanneer jy nader beweeg en luister dat jy besef en vrede kry oor die feit dat jy nie almal se probleme kan oplos nie maar op ‘n manier tog vir ‘n paar die boodskap kan gee dat hulle saak maak en waardig is. En wie weet, jy kan dalk self binne vermoë ‘n langer en meer intense pad met een persoon stap en verstom staan hoe gou iemand op sy voete staan omdat jy hom gehelp het om van sy knieë af te kom.

Ek wens Suid Afrika bereik eendag die plek waar om werk te kan hê en ‘n dak oor jou kop en kos op jou bord amper ‘n gegewe is en gesien word as ‘n basiese mensereg is soos hier in Kanada. Ek weet nie hoe Suid Afrika daar kan uitkom nie maar ek weet waar alles begin. Dit begin by een mens wat ‘n ander nie aan sy lot oorlaat nie. Dit is nie net ons reg om ten minste een persoon te help nie. Dit is ‘n voorreg. En dit slyp jou mens.

Gabriel

Outeur: Gawie Snyman

Vorige Artikel
Volgende Artikel

Lewer Kommentaar

Jou eposadres sal nie gepubliseer word nie.