BESIG OM TE LAAI

Tik om te soek

Abraham se gasvryheid

Deel

In Genesis lees ons van drie mans wat deur Abraham ingehardloop, ingenooi en hartlik ontvang word. Sy gasvryheid lyk vreemd en effens oordrewe. Ek wonder by myself of ek nie half afsydig en suspisieus sou wees as ek aan die ontvangkant daarvan sou wees nie. Amper soos wat ‘n mens maak met ‘n lastige straatverkoper wat net nie weet wanneer om op te hou nie en net “te” is.

Verstaan ‘n mens egter die ou nabye ooste, lyk Abraham se gedrag minder vreemd en meer soos die verwagte norm. Selfs nog vandag, is een van die kenmerke van mense hier, hulle gasvryheid. Nomade wat agter weiding moes aantrek het nie die luukse van gaste baie gehad nie en wou die beste daarvan maak as die geleentheid hom wel voorgedoen het. Die area waarin hulle hulle bevind het was een waar gevare volop was. Die klimaat ekstreem en kos en water skaars. Daar was ook bendes wat jou kon aanval en seermaak.

Deur iemand hartlik te ontvang het ‘n gasheer die persoon gewaarborg dat hy veilig is onder sy dak en dat hy sy lewe sal neerlê eerder as dat die gas aangeval word. Partykeer is ‘n duif of ‘n ander dier geslag en sy bloed in ‘n klein stegie by die ingang van ‘n woning gestort om hierdie belofte te bevestig. Op sy beurt weer het die gas onderneem om ‘n goeie gas te wees en al die reëls van die gasheer se huishouding te eerbiedig sodra hy bloot oor die drempel stap.

In die verhaal van Abraham het sy gasvryheid ‘n onverwagse gevolg. Die gaste word ontdek as boodskappers van God met ‘n rigtinggewende wegwysing vir sy pad. Dit is amper asof die gaste verander in gashere wat Abraham laat deel in die rykdom van God se genade.

Ek dink mense wat die kuns van gasvryheid verstaan, het vandag nog soortgelyke ervarings as Abraham.  Om jou hart en huis oop te maak vir mense het gewoonlik tot gevolg dat hulle jou laat deel in iets spesiaals wat jou lewenspad verryk en partykeer selfs in ‘n nuwe rigting stuur. Hierdie tipe gasvryheid behels egter risiko en opoffering want so seker as wat goeie gaste jou kan seën, so seker kan slegte gaste jou lewe versuur. Vir hierdie risiko sien net die kans wat glo dat enige mense wat oor jou drumpel stap, wetend of onwetend deur God gestuur is en ontvang moet word soos hy self.

Jesus het nie verniet gesê: “Vir sover julle dit aan een van die geringstes gedoen het, het julle dit aan my gedoen”. Mag dit ons inspireer om ons deure en ons harte vir mense oop te maak.

Gabriel

Outeur:

Gawie Snyman is ‘n storieverteller en ‘n dromer. Hy woon tans in die noorde van Alberta, Kanada saam met sy vrou Isabel en twee kinders Steph en Marise. Hy kan gekontak word by [email protected]

Vorige Artikel
Volgende Artikel

Lewer Kommentaar

Jou eposadres sal nie gepubliseer word nie.

error: Inhoud het kopiereg